Op dié blad probeer ons van die algemene vrae oor die kursus antwoord. Laat weet ons gerus as daar nog iets is waaroor jy wonder: Stuur ’n e-posaan neembeterfotos@weg.co.za (ons gaan dié inbus op Vrydae na).

Vir wie is die kursus bedoel?

Ons aanlyn-fotokursus is gemik op diegene wat lief is vir foto’s neem en nou reg is om hulle vaardighede verder te slyp. Nie almal kan dit bekostig (of het die tyd!) om by ’n universiteit of technikon aan te meld vir fotografieklasse nie. Dit maak nie saak of jy op pad Botswana toe is en wil weet watter verstellings jy moet gebruik om dáái leeufoto te neem nie, en of jy net wil seker maak die foto van jou kleinkind by haar prysuitdeling is nie (weer) uit fokus nie – almal is welkom!

Ons bestee heelwat aandag aan die beginsels van goeie fotografie, maar ook aan die verskillende funksies op ’n D-SLR-kamera en hoe jy dit kan gebruik. As jy onlangs ’n ghrênd nuwe kamera gekry het, sal die kursus jou help om meer gemaklik te raak met al daai knoppies.

Hoe werk die kursus?

Die kursus is verdeel in ses modules volgens temas, wat elk uit ’n paar lesse bestaan. Jy moet een les voltooi en die toets aan die einde van die les deurkom met ten minste 50% voor jy kan aanbeweeg na die volgende les.

Die lesse is alles in geskrewe formaat (nie video’s nie) en behoort dus nie lank te vat om te laai of baie data te gebruik nie. Ons gebruik wel heelwat foto’s om die lesse op ‘n visuele manier uit te beeld.

Hoeveel kos dit?

‘n Eenmalige bedrag van R950

Gaan ek amptelik “klas loop”?

Nee, alles gebeur aanlyn. Die lesinhoud is reeds opgelaai en jy kan teen jou eie pas daardeur werk – met ’n koppie koffie, en in jou pajamas in die bed, as jy wil!

Watter soort kamera moet ek hê?

Enigiemand sal baatvind by die kursus – dit maak nie saak of jy ’n mik-en-druk-kamera of selfs net ‘n selfoon het nie: studente gaan veral meer oor komposisie leer, en goeie komposisie vra nie watter kamera jy het nie. Ons kyk ook na goed soos Instagram wat die heel beste werk as jy met jou slimfoon foto’s neem, en help jou om van daai digitale foto’s wat op jou hardeskyf lê in fotoboeke te omskep.

Ons fokus wel op die gebruik van D-SLR-kameras en hoe jy die verskillende funksies kan gebruik om die beste foto te neem. Iemand wat so ’n kamera het, sal die meeste waarde uit die kursus kry.

Gaan ek terugvoering kry op van my foto’s?

Sodra jy ingeskryf het vir die kursus, sal jy ’n uitnodiging kry na ons Facebook-groep waar jy jou “klasmaats” sal ontmoet. Die groep sal ’n forum wees waar jy met ander studente oor fotografie gesels en mekaar se foto’s kan bespreek. Opbouende terugvoering is baie belangrik!

Ons sal ook van tyd tot tyd foto-besprekings en wenke op die “blog” laai en van julle foto’s in die studentegalery sit, sodat almal kan sien hoe oulik jy is!

Stuur enige fotografie-vrae na die e-posadres neembeterfotos@weg.co.za. Ons fotoredakteur Shelley Christians of een van ons ander senior fotograwe sal jou antwoord indien moontlik. Maar hou in gedagte: Dié inbus word net een keer per week (op ’n Vrydag) nagegaan.

Kinders hardloop op Llandudno-strand met sonsondergang. Foto: Annene Mare

Hoe lank gaan die lesse my vat?

Dit wissel – party is sommer baie kort. Ander verg ’n bietjie meer lees- en dinkwerk en kan jou tot ’n halfuur besig hou – selfs langer as jy tussendeur met jou kamera vroetel om te kyk of jy verstaan. Maar ontspan: As die kos in die oond moet kom, kan jy eenvoudig afmeld en weer op ’n ander dag aanmeld en aangaan waar jy moes ophou.

Hoe lank het ek om die kursus te voltooi?

Wanneer jy registreer en betaal, kry jy ’n intekennaam en -wagwoord wat jou toegang tot die kursuswebblad gee. Jou intekening sal nie verval nie en jy kan dus so lank neem soos jy wil om deur die materiaal te werk. Ons raad is egter om nie té lank te wag tussen lesse nie, anders vergeet ’n mens weer wat jy laasjaar geleer het!

Hoeveel verskillende toestelle kan ek gebruik vir die kursus?

Jy kan met twee verskillende toestelle inteken by die kursus (as jy byvoorbeeld meer as een rekenaar gebruik).

Kan ek elke module net een keer doen?

Nee, sodra jy ’n module voltooi het, bly dit beskikbaar wanneer jy inteken met jou kursusprofiel. Jy kan dus maklik terugverwys na vorige lesse om jou geheue te verfris – selfs maande nadat jy die kursus voltooi het.

Gaan ek eksamen skryf?

Daar is ’n kort toetsie aan die einde van elke les. Dit bestaan uit ’n paar vragies – soms net een, soms meer – wat jy aanlyn antwoord. Die vrae is in een van twee formate: veelvuldige keuse of Waar/Onwaar. Jy moet 50% vir die toets kry om aan te beweeg na die volgende les. Maar ontspan! Dis nie dieselfde as jou matriek-wiskundevraestel waaroor jy stééds nagmerries kry nie: Ons help jou bloot om dit wat jy in ’n les gelees het vas te lê.

Wat as ek ’n toets druip?

Toemaar, die skoolhoof gaan jou nie inroep nie! Elke toets het ’n “Herstel”-opsie. Jy kan dus weer deur die les gaan en die toets weer doen.

Kry ek huiswerk?

Fotografie is ’n interessante studieveld: Daar is heelwat teorie om onder die knie te kry, maar op die ou end gaan dit eintlik oor die praktyk. Juis daarom noem ons die kursus “Neem beter foto’s” en nie “Leer die teorie agter fotografie” nie! Die waarde van die kursus lê in hoe gereeld jy wat jy hier leer gaan toepas en oefen. Dis ’n lang manier om te sê: Nee, jy kry nie amptelike huiswerk nie, maar ons hoop dat jou kamera ordentlik gaan wérk in die weke wat kom!

Kry ek ’n sertifikaat?

Ja, sodra jy die laaste module voltooi het, sal jy ’n sertifikaat kan aflaai wat bevestig dat jy die kursus suksesvol voltooi het.

En nou dat ek lekker foto’s kan neem?

Stuur jou beste reis- en natuurfoto’s vir ons. Wie weet, dalk publiseer ons hulle in Weg in Mense se Lense, die gewilde afdeling van die tydskrife waar ons van ons mooiste lesersfoto’s wys. Stuur hulle na menseselense@weg.co.za en deel hulle ook met ons op ons Instagramblad, @menseselense. Merk hulle met die hutsmerk #menseselense en dalk deel ons dit nog verder! Waarvoor wag jy? Gryp jou kamera en gaan neem foto’s!