Fotograaf: Johan Orton

Toerusting: Canon EOS 5D Mk. IV; Canon 300 mm-lens

JOHAN VERTEL: My groot doelwit vir my eerste besoek aan die Kgalagadi-oorgrenspark was om ’n mooi sonsondergang vas te vang. Ongelukkig het ons net drie dae gehad…

Die belangrikste van ’n silhoeëtfoto is dat jy in die son in moet neem, en ook in die goue uur wanneer die lig op sy beste is. Hierdie is om 5.45 nm. geneem. Skielik was dit ons laaste dag en ek het besluit ek gaan die eerste die beste boom afneem vir my silhoeëtfoto. Ek het die prentjie in my kop gesien, maar dit wou net nie “gebeur” nie.

Maar toe sien ek hierdie arend naby Twee-Rivieren. ’n Paar faktore moes egter saamspeel. Eerstens moes ek bid die voël vlieg nie weg terwyl ek my lens by die venster regkry nie.

Tweedens moes my kameraverstellings perfek wees; daar was nie veel tyd vir proewe nie. Ek moes staatmaak op my ondervinding (ek is eintlik ’n sportfotograaf van beroep!).

My Canon 300 mm-lens was nog altyd ’n staatmaker indien die voorwerp nie te ver is nie en die arend was net sowat 20 m weg. My verstellings was ’n sluiterspoed van 1/4 000ste van ’n sekonde, lensopening f5.6 en ISO 800.

Gelukkig het die arend besluit om te vlieg!

WEG SE TOAST COETZER SÊ: Dis lekker wanneer dinge só netjies vir ’n ou uitwerk, nè? Johan se silhoeëtfoto is klassiek omdat die buitelyne van die arend so tipies is: die breë, krom snawel, die kloue wat elkeen uitstaan, die stert- en vlerkvere gesprei op net die regte plek.

Ek hou ook van die afstand tussen die kloue en die tak waarop die arend ’n fraksie van ’n sekonde vroeër gesit het. Daar is genoeg ruimte reg rondom die arend sodat die komposisie nie ingehok voorkom nie – die voël het nou ruimte om te vlieg.

Om al dié dinge reg te kry – en dan nog met sonsonderganglig ook – is nie maklik nie, en daarvoor verdien Johan ’n pluimpie!

Johan se foto het oorspronklik in die Maart 2018-uitgawe van “Weg” verskyn. Onthou: Jy kan ook jou beste foto’s instuur na menseselense@weg.co.za