Fotograaf: Zander Erasmus

Kamera: Nikon D7000, Nikon 18-140 mm-lens

ZANDER SKRYF: Hierdie foto is net buite Fouriesburg geneem toe ons daar oornag het op pad see toe.

Ek het klaar die “logiese” foto van die kranse net buite die dorp geneem en het toe dié waterbak gesien net voor die son heeltemal gesak het. Daar was nie diere of wind wat die wateroppervlak kon versteur nie, dus weerkaats die blou lug nog duidelik.

WEG SE TOAST COETZER SÊ: ’n Mooi foto van ’n drinkbak is vir my mooi… Zander se oog het hierdie ongewone toneel raakgesien te midde van die meer voor die hand liggende opsies rondom hom. Die dramatiese berge van die Oos-Vrystaat is gemáák vir landskapfoto’s, maar die uitdaging is om met iets ánders terug te kom van die veld af.

Zander se lensopening van f8 was wyd genoeg om te sorg dat min of meer alles van die drinkbak hier voor tot die berge doer agter in fokus is. Buiten die weerkaatsing in die water is dit die tekstuur van die klipwerk wat die oog tref – jy kan elke beitelmerkie in die sandsteen sien soos iemand dit dekades gelede losgekap het uit ’n rotsbank in die omgewing. Dit verleen karakter aan die foto, want nou’s daar ’n bietjie geskiedenis ook in die raam.

Zander se foto het oorspronklik in die Maart 2018-uitgawe van “Weg” verskyn. Onthou: jy kan ook jou beste foto’s instuur na menseselense@weg.co.za