Fotograaf: Cindy Bester

Toerusting: Nikon D5100; Nikkor 18-55 mm-lens

CINDY SKRYF: Ek het dié foto een middag laat op my tuisdorp, Despatch geneem. Ek het eers ’n foto gekry van die aankomende trein, maar toe besef dat die agterkant ’n mooier prentjie skets soos die trein wegtrek uit die stasie.

Ek is altyd op soek na nuwe plekke om foto’s te neem, en Despatch het ek al goed verken om die mooiste

plekke te ontdek. Van die stasie af in die rigting van Uitenhage is daar ’n voetpaadjie langs die spore. Op ’n sekere tyd van die jaar daal die son in lyn met die spore wat goeie foto’s lewer.

Soms neem ek net die spore af, maar dis ’n bonus as ’n trein ook in die prentjie is.

WEG SE TOAST COETZER SÊ: Ek hou daarvan om te kyk watse foto’s Cindy op Instagram plaas, omdat sy veral fokus op die gebied rondom Port Elizabeth en Despatch. Volgende keer as Weg dalk ’n foto soek van ’n trein in die Oos-Kaap, dan weet ek: Vra vir Cindy!

Die dramatiese laatmiddaglig en die sterk fatsoene van die garingbome op die voorgrond laat Cindy se foto uitstaan. Dis ’n klassieke komposisie, met ’n boeiende voorgrond, die hoofvoorwerp (die trein) wat dieper die raam in beweeg en die berge in die verte na regs wat die landskap afrond.

Die rooi “remliggies” van die laaste treinwa is die kersie op die koek!

Johan se foto het oorspronklik in die Maart 2018-uitgawe van “Weg” verskyn. Onthou: Jy kan ook jou beste foto’s instuur na menseselense@weg.co.za