Fotograaf: Herman Smit

Toerusting: Nikon D7200; Nikon 18-140 mm-lens

HERMAN SKRYF: Ons was op toer in Namibië, en ek het hierdie foto by die Kokerboomwoud buite Keetmanshoop geneem. My lens was op sy wydste oop (18 mm) – my lensopening op f18, sluiterspoed 1/100ste van ’n sekonde en ISO op 800 gestel.

Ek het eers die boom omhels en sy energie ingeneem soos ’n wafferse tree hugger, maar toe ek opkyk, toe weet ek: hierdie prentjie gaan huis toe.

WEG SE TOAST COETZER SÊ: Ek is bly jy het opgekyk nadat jy vir die kokerboom ’n drukkie gegee het!

Kokerbome (eintlik nie ’n boom nie, maar ’n boomaalwyn) is van ons mees fotogeniese bome. Jy kan hulle behoorlik uit enige hoek afneem en jou foto sál aandag trek. Vir my is dit egter hulle fatsoene wat uitstaan, die sterk, byna mensagtige figuur wat die stam en die takkies na bo maak. Dan is daar die blare, wat nes ’n menigte vingers lyk, of die tentakels van ’n see-anemoon.

Jy wil hierdie fatsoen mooi wys teen die agtergrond, en gewoonlik is die maklikste om dit teen die blou lug te laat uitstaan.

Deur reg onder die boom te staan en teen die stam op te neem kon Herman die blare byna soos sterretjies teen die lug laat lyk, én hy kon genoeg detail in die bas in die voorgrond behou om lewe te gee aan die teksture daar.

Die lensopening van f18 het gesorg vir ’n groot fokusdiepte, met ander woorde als van die stam hier voor tot die verste blaar is in fokus.

Herman se foto het oorspronklik in die Februarie 2018-uitgawe van “Weg” verskyn. Onthou: jy kan ook jou beste foto’s instuur na menseselense@weg.co.za